Philip Moolman

This is some blog description about this site

DIE AANDBLOM 13 - Arno Carstens

Posted by on in Blou Hond
  • Font size: Larger Smaller
  • Hits: 630
  • Subscribe to this entry
  • Print

Arno Carstens​ het vir die grootste deel van sy loopbaan slegs in Engels gekomponeer en gesing. Die onlangse vrystelling van sy eerste Afrikaanse album “Die Aandblom 13” het splinternuwe deure vir hom oopgemaak. Die Blou Hond gaste was vol afwagting, om hierdie “pasgebore” Afrikaanse skeppinge van Arno, vir die eerste keer “lewendig” te hoor. Dis duidelik dat baie van hulle reeds die CD het en die woorde ken, want elke keer as Arno die titel van een van sy Afrikaanse liedjies aankondig, dan is daar groot remoerigheid, applous, uitbundige krete en `n klomp arms wat hoog in die lug opgaan. Hier en daar staan mense sommer op hulle voete – nog voordat die lied begin – want hulle is so opgewonde om dit “live” te hoor. Arno het gebieg dat sy persoonlike gunsteling op die Afrikaanse album die lied “Intensie” is (en die mense het goed gereageer daarop) maar toe hy sy komposissie “Tjoepstil” (ewe fluisterend) aankondig, toe gaan die mense mal.

Meeste mense ken Arno Carstens, as die hoofsanger van die Springbok Nude Girls, en vir verskeie (platinum) solo vrystellings daarna (waarvoor hy ook verskeie toekennings ontvang het) soos Another Universe, The Hello Goodbye Boys, Wonderful Wild, Lightning Prevails en vele meer… maar daar is nou `n splinternuwe bewonderaarsgroep wat bygekom het, met die vrystelling van “Die Aandblom 13.”
Na soveel dekades in die musiekbedryf, word Arno Carstens se musiek (vir die eerste keer) op sekere Afrikaanse radiostasies gespeel; en dit nadat hy al saam met Mike & The Mechanics (op 3 snitte van hulle album “The Road”) as hoofsanger en mede-komponis opgetree het - `n album wat wereldwyd, op soveel radiostasies gespeel is. Min mense weet dit, maar Arno het al dikwels internasionaal gewerk; en het al saam met U2, Sting en The Police opgetree. Hy was ook gekies (uit derduisende begaafde musikante – wereldwyd) om die hele Spanje-toer saam met The Rolling Stones op te tree, as hulle eksklusiewe voorprogram-kunstenaar. (Hoe min sangers kan dit op hulle kerfstok sit?)

En hier het ons die voorreg om vir Arno Carstens in die intieme atmosfeer van Die Blou Hond te mag geniet – wat `n spesiale geleentheid – en dan het ons nog boonop die voorreg om hom “vir die eerste keer in Afrikaans” ook te mag beleef. Alle Arno Carstens bewonderaars: maak seker dat julle die Blou Hond se webtuiste dophou en betyds bespreek vir sy volgende vertoning. Ons sien uit om julle hier te mag ontvang; en om hierdie spesiale belewenis met julle te deel.

Groete van ons almal hier by die pragtige Casa Toscana Lodge – Die Blou Hond se “Pedigree Kennels.”
Philip Moolman Page​ & Die Blou Hond span.
(“Woef!”)

0123488820 / http://www.casatoscana.co.za/events-shows/events

Photos: Deon Van Wyk​
Sound: Studio 386​

 

Photo link: 

http://bit.ly/BH17ArnoC0802

 

20638563 807981019362145 3993200473525331442 n

 

PHILIP MOOLMAN – residensiele kunstenaar, by Die Blou Hond Teater Restaurant - word deur sommige mense onthou, as Neil Macdonald van “Sonkring,” of Andre Vorster van “Egoli.” Ander assosieer hom, met die helikopter-waaghals, in die program "Skattejag," of met die twee romantiese hoofrolle, wat hy in die Afrikaanse rolprente: "Die Prins van Pretoria" en "Inside Out" gespeel het.

Sy loopbaan het afgeskop (voor Egoli en Sonkring se dae) met die wen van `n landswye sang-en liedjieskryfkompetisie in 1989 - die televisieprogram "GRAFITTI" se "Ster 90" kompetisie. (Dit was die "Pop Idol`s," van daai tyd.) Daarna het verskeie T.V.-produksies gevolg, soos Die Sonkring, EGOLI, Wenners, Die Netwerk, Torings, Die Fourth Reich, Rhythm City, Binnelanders, High Rollers, Sterlopers ens... asook musikale verhoogproduksies, soos: Ester, Liefling en Ons Vir Jou.

Maar Die Blou Hond het Philip Moolman die besigste gehou (die afgelope 10 jaar) waar hy meeste van die vertonings self hanteer het, met afwisseling, deur ander top kunstenaars, soos Prime Circle, Chris Chameleon, Arno Carstens, Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, Koos Kombuis, Coenie de Villiers… en ongeveer 50 ander bekende plaaslike kunstenaars, wat oor 10 jaar geroteer het. 

Intussen skryf en toonset hy `n magdom Afrikaanse en Engelse liedjies, wat uiteindelik nou die lig gaan sien, met meer tyd op hande, sedert Die Blou Hond-perseel in Johannesburg verkoop is; en die die hele wenresep - saam met die "Hoofhond" en sy hele databasis, van duisende kliente ( "reune, tewe en werpsels") nou oorgeskuif het, na die spoggerige Casa Toscana - in Pretoria - waar Philip nou nie meer die volle restaurant eienaarskap en bestuur hoef te hanteer nie, maar suiwer op die kreatiewe kant van sake kan fokus.

Die hande-vat (of liewer "poot-vat") van die "Blou Bul" en die "Blou Hond" beloof om groot opskudding in Pretoria; asook in die Afrikaanse musiek-kultuur landswyd te veroorsaak, aangesien kunstenaars reg oor die land (asook die publiek) honger is vir venues wat die toets van die tyd kan deurstaan, soos die geliefde Blou Hond wat vir meer as `n dekade lank uit sy nate bars; tesame met die stylvolle Casa Toscana, wat (in eie reg) lank reeds sterk gevestig is. 

Ja-nee, die "hond" het `n bakgat nuwe "hok" gevind; en Pretoria is die PERFEKTE nuwe leplek. Vroeer: `n informele, loslit, residensiele huisteater-restaurant. Nou: die spoggerige "Herehuis-kennels," van Casa Toscana.

Die Blou Hond was nog nooit `n S.P.C.A. / pavement special / steekbaard, of straatbrak gewees nie; maar NOU het hy onteenseglik, `n volbloed Pretoria PEDIGREE HOND geword - met al die inspuitings, inentings, ontvlooiings, ontwurmings en splinternuwe “liksens-pampiere”; waar Philip Moolman (asook dosyne ander TOP Suid Afrikaanse kunstenaars) nou EERS `n "hond uit `n bos" gaan sing!