Philip Moolman

This is some blog description about this site

Koos Kombuis #LangpadNaLekkersing

Posted by on in Blou Hond
  • Font size: Larger Smaller
  • Hits: 506
  • Subscribe to this entry
  • Print

Toe Koos Kombuis​ instap by Die Blou Hond, op Donderdagaand 20 Julie 2017, toe neem dit my onwillekeurig terug na 1985, tydens my eerste jaar op Stellenbosch. Ek onthou die opelug straatteater (langs die biblioteek) waar ekself, Koos Kombuis, Casper de Vries, Marion Holm, Ilse Roos en Nataniel van ons eerste konserte (ooit) gehou het, toe ons almal nog in ons 20`s was. Ek onthou hoe Koos Kombuis (ons hom toe nog geken as Andre le Toit) plat op die grond, net buite die “Neelsie” gesit het en sy gedigte aan verbygangers voorgelees het.

Vanaand – 32 jaar later – is Koos terug by een van sy gunsteling venues: Die Blou Hond. Sy klantoets is vining klaar. Hy is nie vol fieterjasies nie. Hy speel slegs met stem en kitaar. Maar dis genoeg, om die hart en die inhoud van hierdie “lewende legende” te kan ervaar. Mense gebruik die woord “legende” deesdae goedsmoeds en om elke hoek en draai; en voeg dit graag toe, tot mense aan wie dit nie regtig toekom nie. Koos Kombuis, egter – saam met Anton Goosen, Laurika Rauch, Coenie de Villiers, Johnny Clegg en `n paar ander - is ware “lewende legendes;” en dit was weer eens `n voorreg om vir Koos Kombuis by Die Blou Hond te kon geniet.

Die voorprogram kunstenaars Tian Nienaber​ het hom goed van sy taak gekwyt. Gaan loer gerus in by Tian Nienaber​ om te luister watse pragtige bydrae hulle gelewer het, tot die aand. Koos Kombuis het homself ge-ewenaar en selfs hier en daar oortref, met al die lekker ou komposisies wat ons almal ken en liefhet; asook `n paar nuwe, geniale skeppinge wat beindruk en verstom.

Gaan luister gerus by https://www.kooskombuis.com as jy `n idee wil kry, waaroor Koos Kombuis gaan. “Lewendig” is egter anders as YouTube – maak seker dat jy nie die volgende Koos Kombuis vertoning by Die #BlouHond misloop nie.

As jy een van die mooiste liefdesliedere in Afrikaans wil hoor, gaan luister gerus na Koos Kombuis se liedjie: “Bicycle Sonder `n Slot.” (Laat weet, of jy saamstem.)

Dankie Koos, vir nog `n onvergeetlike belewenis by Die Blou Hond.
Ons hoop om jou gou weer te sien.
Liefde en “woef” van ons almal.

Philip Moolman​

Photos: Deon Van Wyk​
Sound: Studio 386​

PHILIP MOOLMAN – residensiele kunstenaar, by Die Blou Hond Teater Restaurant - word deur sommige mense onthou, as Neil Macdonald van “Sonkring,” of Andre Vorster van “Egoli.” Ander assosieer hom, met die helikopter-waaghals, in die program "Skattejag," of met die twee romantiese hoofrolle, wat hy in die Afrikaanse rolprente: "Die Prins van Pretoria" en "Inside Out" gespeel het.

Sy loopbaan het afgeskop (voor Egoli en Sonkring se dae) met die wen van `n landswye sang-en liedjieskryfkompetisie in 1989 - die televisieprogram "GRAFITTI" se "Ster 90" kompetisie. (Dit was die "Pop Idol`s," van daai tyd.) Daarna het verskeie T.V.-produksies gevolg, soos Die Sonkring, EGOLI, Wenners, Die Netwerk, Torings, Die Fourth Reich, Rhythm City, Binnelanders, High Rollers, Sterlopers ens... asook musikale verhoogproduksies, soos: Ester, Liefling en Ons Vir Jou.

Maar Die Blou Hond het Philip Moolman die besigste gehou (die afgelope 10 jaar) waar hy meeste van die vertonings self hanteer het, met afwisseling, deur ander top kunstenaars, soos Prime Circle, Chris Chameleon, Arno Carstens, Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, Koos Kombuis, Coenie de Villiers… en ongeveer 50 ander bekende plaaslike kunstenaars, wat oor 10 jaar geroteer het. 

Intussen skryf en toonset hy `n magdom Afrikaanse en Engelse liedjies, wat uiteindelik nou die lig gaan sien, met meer tyd op hande, sedert Die Blou Hond-perseel in Johannesburg verkoop is; en die die hele wenresep - saam met die "Hoofhond" en sy hele databasis, van duisende kliente ( "reune, tewe en werpsels") nou oorgeskuif het, na die spoggerige Casa Toscana - in Pretoria - waar Philip nou nie meer die volle restaurant eienaarskap en bestuur hoef te hanteer nie, maar suiwer op die kreatiewe kant van sake kan fokus.

Die hande-vat (of liewer "poot-vat") van die "Blou Bul" en die "Blou Hond" beloof om groot opskudding in Pretoria; asook in die Afrikaanse musiek-kultuur landswyd te veroorsaak, aangesien kunstenaars reg oor die land (asook die publiek) honger is vir venues wat die toets van die tyd kan deurstaan, soos die geliefde Blou Hond wat vir meer as `n dekade lank uit sy nate bars; tesame met die stylvolle Casa Toscana, wat (in eie reg) lank reeds sterk gevestig is. 

Ja-nee, die "hond" het `n bakgat nuwe "hok" gevind; en Pretoria is die PERFEKTE nuwe leplek. Vroeer: `n informele, loslit, residensiele huisteater-restaurant. Nou: die spoggerige "Herehuis-kennels," van Casa Toscana.

Die Blou Hond was nog nooit `n S.P.C.A. / pavement special / steekbaard, of straatbrak gewees nie; maar NOU het hy onteenseglik, `n volbloed Pretoria PEDIGREE HOND geword - met al die inspuitings, inentings, ontvlooiings, ontwurmings en splinternuwe “liksens-pampiere”; waar Philip Moolman (asook dosyne ander TOP Suid Afrikaanse kunstenaars) nou EERS `n "hond uit `n bos" gaan sing!