Philip Moolman

This is some blog description about this site

My eerste paraglide vlug, om vir Johnny te gaan bid.

Posted by on in Philip Blog
  • Font size: Larger Smaller
  • Hits: 2797
  • Subscribe to this entry
  • Print

Watch the video on Youtube http://youtu.be/bsxJfsT2QD4

"My eerste paraglide vlug, om vir Johnny te gaan bid":  Philip Moolman

Hierdie Saterdagaand wat verby is, droom ek van paragliding; en hoe ek - terwyl ek daarbo is - vir Johnny bid. (Hy moes Maandag vir `n groot operasie gaan.) Daarbo is ek mos nader aan die Here - het ek gedink. Die opvangs is sekerlik sterker. Dalk slaan `n mens sommer direkte lyne.  

Sondagoggend klim ek in die kar en ry besete (impulsief-geinspireerd) in die rigting van Krugersdorp. DAARNA bel ek eers (sommer terwyl ek ry) vir `n paraglide afspraak - so haastig is ek. Ja-nee kyk, hierdie is `n briljante idee: vandag gaan ons vir Johnny bid, vanuit `n posissie van VOORDEEL; ons gaan HEEL VOOR in die gebedsry indruk. Die engele (wat gebede opvang en oordra) hang sekerlik DIK daarbo. Ons moet sorg dat hulle notisie neem:

"Today we are going straight to the Top!"  

"Die wind waai te sterk" - se die Krugersdorp Paraglide Club en gee vir my `n nommer in Dunnottar, Springs. Ek draai om Springs toe: 97 km weg, se die GPS. Ek bel hulle oppad. Die kerel (Hendrik) is in die kerk. Hy se ook die wind waai te veel; daarom dat hy vir `n verandering kon kerk toe gaan. Gewoonlik paraglide hy sommer reguit Boontoe op Sondae. Dan kies hy kortpad. Maar nou ja, as die wind te sterk waai, dan moet hy maar die langer pad (kerklangs) vat.

Kerke is blykbaar voller (in Springs) op winderige Sondae. Dankie Here - dink ek by myself - ek het die regte paraglide instrukteur gevind. Hierdie man gaan my reg Boontoe vat, tot daar waar `n mens slegs hoef te fluister - dan hoor die Here jou.

Anyway, ek se toe vir Hendrik (ten spyte van al sy wind- en kerkverskonings) ek is in elk geval oppad, hy moet maar kom - Bybel en al, wind of "dunnottar" - want vandag GAAN ek my eerste paraglide les kry! Ons moet vir Johnny gaan bid! Lang storie kort: Ek oefen toe so bietjie op die grond, hang aan `n wasgoedpaal in so `n baba-swaaistoeltjie-affere. En toe ek weer sien toe sleep hy my agter sy bakkie aan, met `n lang tou; en daar hang ek toe lekker, en hy katrol my al hoer die lug in. Later is ek so 700 meter (amper `n flippen kilometer) hoog. Dis toe dat ek begin bang raak en hoop hy katrol my nou terug aarde toe. En net toe ek so dink, toe se hy vir my oor die radio: "release cable, release, release." Ek dog, dalk het sy tou opgeraak en het ek hom (en sy bakkie) nou ook die lug igesleep; want die wind is moer sterk daarbo, en ek MOVE... skud-skud: dit voel asof ek grondpad vlieg. Ek dog, wag, laat ek maar die naelstring knip, dat Hendrik en sy bakkie weer grond toe kan gaan. Die arme man het vrou en kinders; net-nou loop sit ek hom in Soweto neer, of in Zanzibar – of so iets. En ek trek toe die tou... "knaps." Daar skiet ek toe sommer nog `n paar 100 meter hoer op, en hap-hap aan `n paar wolke. (Dit proe glad nie soos spookasem, soos ek as kind gedink het nie.)

Toe val dit my by: ek het die kerel uit die kerk gesleep; dalk is die engele vies vir my; ek hoop nie ek is nou in die moeilikheid nie. Se nou net daar bestaan iets, soos "wettiese engele..." Die wind ruk en raas in my ore. Ek styg nog opperder en opperder en kyk af: ek sien die aarde lyk rond na alle kante, asof mens oral sal kan afval, as jy nie oppas nie. "Ek wonder hoe hoog is ons nou-al" - dink ek by myself. Se nou net Hendrik is `n Dopper? Imagine: Dopper-Engele!  Ek skrik myself van N.G. tot A.G.S. en kap `n sharp leftie (trek die linker tou lank en hard) en probeer my baba-pram-swaaistoel-training onthou: shit, moes ek nie dalk eers `n flikker aangesit het nie?  Ek het skielik als vergeet! Ek draai uit die wind uit en voel hoe ek spoed optel. Nou`s daai kwaai dopper-engel-wind REG agter my. Whooooow! Kaapstad hier kom ons! Ek kon voel ek het nou teerpad gestrike - die highway (in fact) alliepad Bloem toe - oor Potch! Na vele desperate draaie en swaaie, reverse-gear spins en hand-brake turns... het ek uiteindelik weer die Dunnottar vliegveld opgespoor, en begin afdaal soontoe. DIS waar hierdie video begin... (sien die Youtube link en click daarop, om te kyk.)

Die einde van die storie: ek het myself so beskyt - ek het skoon vergeet, om vir Johnny te bid!

N.S. (1) Hendrik, ons moet van nou af liewer op Saterdae verdere opleiding doen; nie weer in kerktyd nie, asseblief.

Let`s play it safe: hierdie sport het genoeg risikos van sy eie.

O ja, en sorry oor jou bakkie. Het hulle hom al van die watertoring afgekry?
Sorry Bra.
Ek sal vir jou `n nuwe bakkie koop.

Sien jou volgende Sondag - ek bedoel: Saterdag!

N.S. (2) Johnny se operasie het toe goed afgeloop.

Die Here het my poging raakgesien - al het ek vergeet om te bid.

Dankie Here!

Gesondheid Johnny!

PHILIP MOOLMAN – residensiele kunstenaar, by Die Blou Hond Teater Restaurant - word deur sommige mense onthou, as Neil Macdonald van “Sonkring,” of Andre Vorster van “Egoli.” Ander assosieer hom, met die helikopter-waaghals, in die program "Skattejag," of met die twee romantiese hoofrolle, wat hy in die Afrikaanse rolprente: "Die Prins van Pretoria" en "Inside Out" gespeel het.

Sy loopbaan het afgeskop (voor Egoli en Sonkring se dae) met die wen van `n landswye sang-en liedjieskryfkompetisie in 1989 - die televisieprogram "GRAFITTI" se "Ster 90" kompetisie. (Dit was die "Pop Idol`s," van daai tyd.) Daarna het verskeie T.V.-produksies gevolg, soos Die Sonkring, EGOLI, Wenners, Die Netwerk, Torings, Die Fourth Reich, Rhythm City, Binnelanders, High Rollers, Sterlopers ens... asook musikale verhoogproduksies, soos: Ester, Liefling en Ons Vir Jou.

Maar Die Blou Hond het Philip Moolman die besigste gehou (die afgelope 10 jaar) waar hy meeste van die vertonings self hanteer het, met afwisseling, deur ander top kunstenaars, soos Prime Circle, Chris Chameleon, Arno Carstens, Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, Koos Kombuis, Coenie de Villiers… en ongeveer 50 ander bekende plaaslike kunstenaars, wat oor 10 jaar geroteer het. 

Intussen skryf en toonset hy `n magdom Afrikaanse en Engelse liedjies, wat uiteindelik nou die lig gaan sien, met meer tyd op hande, sedert Die Blou Hond-perseel in Johannesburg verkoop is; en die die hele wenresep - saam met die "Hoofhond" en sy hele databasis, van duisende kliente ( "reune, tewe en werpsels") nou oorgeskuif het, na die spoggerige Casa Toscana - in Pretoria - waar Philip nou nie meer die volle restaurant eienaarskap en bestuur hoef te hanteer nie, maar suiwer op die kreatiewe kant van sake kan fokus.

Die hande-vat (of liewer "poot-vat") van die "Blou Bul" en die "Blou Hond" beloof om groot opskudding in Pretoria; asook in die Afrikaanse musiek-kultuur landswyd te veroorsaak, aangesien kunstenaars reg oor die land (asook die publiek) honger is vir venues wat die toets van die tyd kan deurstaan, soos die geliefde Blou Hond wat vir meer as `n dekade lank uit sy nate bars; tesame met die stylvolle Casa Toscana, wat (in eie reg) lank reeds sterk gevestig is. 

Ja-nee, die "hond" het `n bakgat nuwe "hok" gevind; en Pretoria is die PERFEKTE nuwe leplek. Vroeer: `n informele, loslit, residensiele huisteater-restaurant. Nou: die spoggerige "Herehuis-kennels," van Casa Toscana.

Die Blou Hond was nog nooit `n S.P.C.A. / pavement special / steekbaard, of straatbrak gewees nie; maar NOU het hy onteenseglik, `n volbloed Pretoria PEDIGREE HOND geword - met al die inspuitings, inentings, ontvlooiings, ontwurmings en splinternuwe “liksens-pampiere”; waar Philip Moolman (asook dosyne ander TOP Suid Afrikaanse kunstenaars) nou EERS `n "hond uit `n bos" gaan sing!