Blog

This is some blog description about this site

Pietman Geldenhuys & Mauritz Lotz "Van die Os op die Jas"

Posted by on in Blou Hond
  • Font size: Larger Smaller
  • Hits: 269
  • Subscribe to this entry
  • Print
‘n Aandjie in die befaamde Pietman Geldenhuys, meester storie verteller, Skotse persoonlikheid, musikant, liedjieskrywer, komediant, “entertainer”, MC, afslaer en meer, is altyd ‘n ontspanne, aangename geleentheid om na uit te sien. Eerste op die verhoog is kitaar “wizard”, Mauritz Lotz, wat geen bekendstelling nodig het nie en die waardering vir die mooi musiek wat hy met ‘n kitaar kan optower, word duidelik weerspieël in die luide applous waarmee sy verskyning op die verhoog begroet word. Met die intrapslag op die verhoog het Pietman die Blou Hond se gehoor in die palm van sy hand met die titelsnit vanaf sy album “Van die os op die jas” (2018). Saam maak Pietman en Mauritz ‘n gedugte span en word ons getrakteer op ‘n verskeidenheid van liedjies wat Pietman deur die jare na aan die hart lê. Sommige geskryf vir homself en andere wat hy vir ander kunstenaars geskryf het, maar toe deur homself opgeneem is soos “Reën” (vir Lianie May), “Judas” (vir Laurika Rauch), “Kan jy nou meer” (vir Andries Vermeulen). Sy groot liefde vir die Karoo word weerspieël in die pragtige “Kom hurk by my”, wat hy in die Karoo spesiaal vir sy vrou geskryf het. Baie indrukwekkend is die “Woord” liedje waar hy van die verskillende tafels elkeen een woord versoek, vir Mauritz vra om twee wysies op te maak waarvan die gehoor dan een kies en met die woorde aan hom voorsien, op die plek ‘n liedjie komponeer. Indrukwekkend inderdaad! Ewe indrukwekkend en baie vermaaklik is die stories wat Pietman vertel – dis asof jy na bekende storie vertellers soos wyle Tolla van der Merwe en Nico Nel self luister met gewilde stories wat deur die jare deur hulle oorvertel is, maar dis veral met sy Skotse persona dat hy die gehoor laat skaterlag! Met “Loslappie Blues” wys Pietman dat hy ook die Blues kan “rock”. Met sy oortuigende weergawe van die 1950’s “Flower of Scotland” (The Corrs), bereik vanaand se baie geslaagde vertoning sy hoogtepunt en heeltemal te gou na almal se sin ook sy afsluitpunt. Pietman Geldenhuys, Mauritz Lotz - ons sien baie uit na die volgende een!
Baie dankie aan Karin Bekker en Bianca (Le Si Musikale Extravaganza kunstenaars) vir die voorvertoning. ‘n Spesiale dankie aan vanaand se VIP’s – Renault Bryanston, (onthou dat Blou Hond kliënte afslae geniet hier) die gewaarde gereelde kliënte van die Blou Hond en almal wat vanaand hul verjaarsdag by die Blou Hond vier.
Besoek gerus ons webwerf vir opkomende vertonings:
https://www.casatoscana.co.za/events-shows/events/blou-hond-events
 
Blog Linda Holland
Sound: Studio 386
6I7A9780 600 x 400