Philip Moolman

This is some blog description about this site

Robbie neem Die Blou Hond op musikale reis

Posted by on in Blou Hond
  • Font size: Larger Smaller
  • Hits: 2337
  • Subscribe to this entry
  • Print

 

Luister jy na Robbie Wessels se musiek besef jy vinnig hy is nie net 'n musikant nie, maar 'n storieverteller met 'n kitaar in sy hand. Sy onlangse optrede by Casa Toscana Lodge se Die Blou Hond getuig van 'n suksesvolle loopbaan in die bedryf waar hy so gemaklik tuiste gevind het. 

Die aand het afgeskop met seremoniemeester en stigter van Die Blou Hond, Philip Moolman, waar hy die gaste oor 'n paar Blou Hond rituele ingelig het. 'n Tjank vir 'n drankie en 'n blaf as applous vir die kunstenaar op die verhoog - daar was ook die goeie nuus van "'n reën wat sy tefie suksesvol gedek het" en na die skaterlag van die gehoor was die paartjie geluk gewens. Woef Kardoes geskenkpakkies met 'n getekende Robbie Wessels CD en Muratie wyn is ook as pryse uitgedeel. Na die Blou Hond tafelgebed het die aand behoorlik afgeskop! 

"Amper pull ek 'n hamstring hier aan die einde!" is al wat die Leeuloop-sanger na hul eerste lied kon uitkry. Robbie en sy band het met die bekende Asseblief My Lief op die verhoog geklim en elke beweging in sy repertoire gebruik om die gehoor te laat krul van die lekker kry. Halley Se Komeet was onder die bekende liedjies wat hy die aand gesing het, maar dit is ook die een lied wat Robbie die meeste geniet om te speel. 

Hy is nie 'n vreemdeling by Die Blou Hond familie nie, na 'n paar optredes by ons vorige huis in Linden (Johannesburg) was dié Robbie se tweede besoek aan Die Blou Hond sedert ons groot skuif na Pretoria. Sy liedjies het elkeen ‘n unieke storie, of dit nou ’n ware verhaal is of sommer net Robbie se verbeelding en talente as akteur is wat dit vertel, het dit vir ‘n besonderse aand gesorg. KykNET se gewilde musiekprogram, Jukebox, was ook daar om onderhoude met die gaste te voer vir hul Valentynsdagprogram.

Ons het die aand afgesluit met Wessels se treffer, Macarena Mambo , en met dit die einde van nog 'n wonderlike en suksesvolle aand by Casa Toscana, huis van Die Blou Hond. Tot volgende keer!

 

by Marco Spaumer vir Die Blou Hond 

PHILIP MOOLMAN – residensiele kunstenaar, by Die Blou Hond Teater Restaurant - word deur sommige mense onthou, as Neil Macdonald van “Sonkring,” of Andre Vorster van “Egoli.” Ander assosieer hom, met die helikopter-waaghals, in die program "Skattejag," of met die twee romantiese hoofrolle, wat hy in die Afrikaanse rolprente: "Die Prins van Pretoria" en "Inside Out" gespeel het.

Sy loopbaan het afgeskop (voor Egoli en Sonkring se dae) met die wen van `n landswye sang-en liedjieskryfkompetisie in 1989 - die televisieprogram "GRAFITTI" se "Ster 90" kompetisie. (Dit was die "Pop Idol`s," van daai tyd.) Daarna het verskeie T.V.-produksies gevolg, soos Die Sonkring, EGOLI, Wenners, Die Netwerk, Torings, Die Fourth Reich, Rhythm City, Binnelanders, High Rollers, Sterlopers ens... asook musikale verhoogproduksies, soos: Ester, Liefling en Ons Vir Jou.

Maar Die Blou Hond het Philip Moolman die besigste gehou (die afgelope 10 jaar) waar hy meeste van die vertonings self hanteer het, met afwisseling, deur ander top kunstenaars, soos Prime Circle, Chris Chameleon, Arno Carstens, Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, Koos Kombuis, Coenie de Villiers… en ongeveer 50 ander bekende plaaslike kunstenaars, wat oor 10 jaar geroteer het. 

Intussen skryf en toonset hy `n magdom Afrikaanse en Engelse liedjies, wat uiteindelik nou die lig gaan sien, met meer tyd op hande, sedert Die Blou Hond-perseel in Johannesburg verkoop is; en die die hele wenresep - saam met die "Hoofhond" en sy hele databasis, van duisende kliente ( "reune, tewe en werpsels") nou oorgeskuif het, na die spoggerige Casa Toscana - in Pretoria - waar Philip nou nie meer die volle restaurant eienaarskap en bestuur hoef te hanteer nie, maar suiwer op die kreatiewe kant van sake kan fokus.

Die hande-vat (of liewer "poot-vat") van die "Blou Bul" en die "Blou Hond" beloof om groot opskudding in Pretoria; asook in die Afrikaanse musiek-kultuur landswyd te veroorsaak, aangesien kunstenaars reg oor die land (asook die publiek) honger is vir venues wat die toets van die tyd kan deurstaan, soos die geliefde Blou Hond wat vir meer as `n dekade lank uit sy nate bars; tesame met die stylvolle Casa Toscana, wat (in eie reg) lank reeds sterk gevestig is. 

Ja-nee, die "hond" het `n bakgat nuwe "hok" gevind; en Pretoria is die PERFEKTE nuwe leplek. Vroeer: `n informele, loslit, residensiele huisteater-restaurant. Nou: die spoggerige "Herehuis-kennels," van Casa Toscana.

Die Blou Hond was nog nooit `n S.P.C.A. / pavement special / steekbaard, of straatbrak gewees nie; maar NOU het hy onteenseglik, `n volbloed Pretoria PEDIGREE HOND geword - met al die inspuitings, inentings, ontvlooiings, ontwurmings en splinternuwe “liksens-pampiere”; waar Philip Moolman (asook dosyne ander TOP Suid Afrikaanse kunstenaars) nou EERS `n "hond uit `n bos" gaan sing!