Philip Moolman

This is some blog description about this site

"Sny Dit Af" Jak de Priester

Posted by on in Blou Hond
  • Font size: Larger Smaller
  • Hits: 1295
  • Subscribe to this entry
  • Print

Jak De Priester​ het Die Blou Hond-gaste op `n musikale lewensreis geneem, op 27 Julie, 2017.
Hy sing liedjies uit sy studentedae, sy reise oorsee, sy interaksies met interessante beroemde persone, op die T.V. program “Reis Na Gister” waarvan hy die aanbieder is. Meer as dit (en baie spesiaal) deel hy persoonlike hartsliedjies, uit sy persoonlike lewensreis as getroude man, met 3 kinders – hy het vir elkeen van sy kinders `n spesiale liedjie geskryf. Die gehoor bestaan nie uit rock en roll “kopstampers” nie, alhoewel Jak selfs vir sulkes `n goeie tyd sal kan gee. Nee, dis “ordentlike” mense (soos wat Jak self in die kleedkamer opgemerk het – met `n tong in die kies, stout-tevrede glimlag om sy mond) mense wat digkuns, woordkuns en strelende musiek kan waardeer; en `n smaakvolle “stout” grappie ook , op die regte plek.

Maar almal in die gehoor (hoe pastoraal ook al) het van “N.G.” na “A.G.S.” ontrafel en uitgehaak, toe hy die liedjie “Sny Dit Af” met die mense deel. Jak, jy is `n meester. Jy het voorwaar styl, klas en finesse; met `n sin vir humor en `n aangrypende vertoning wat mense ontroer en vervoer, na wonderbaarlike plekke – nie net uiterlike reise nie, maar innerlike reise ook. Jak de Priester het die talent om alledaagse belewenisse (waarme alle mense hulleself mee kan vereenselwig) te verwoord, op `n manier, dat `n mens WIL saamgaan op die reis waarop hy jou neem. Die gehoor voel ontspanne en veilig in sy geselskap, want hy deel persoonlike (hartseer en vrolike) stories en staaltjies - vol empatie, spot, wysheid en meelewing, wat mense laat voel: “dankie Jak – daar vat jy dit namens my vas.” Mense voel gewaardeer, verstaan, veilig en dankbaar, as daar iemand is wat hulle EIE onuitspreekbare emosies NAMENS HULLE kan verwoord. (En hiermee het Jak hom bitter goed van sy taak gekwyt.)

Namens almal wat die vertoning bygewoon het (en ek het met almal voor en na die vertoning gepraat) se ek vir jou baie dankie - Jak. Jy is baie professioneel, innemend, vriendelik en briljant. En jy het ons op `n heerlike lewensreis geneem, met woord en lied.

VASTI (wat dikwels ook die Blou Hond blogs skryf) het die voorprogram vir Jak gedoen. Sy is pragtig, talentvol en sing lieflik. Gaan Google haar gerus en volg haar – jy sal nie spyt wees nie.

Jak de Priester en Vasti Music​ – kom gou weer.
Die Blou Hond hou baie van julle.
Seen op julle loopbane.

Philip Moolman​ en die Blou Hond span.
(Woef!)
Sound: Studio 386​
Photos: Deon Van Wyk​

PHILIP MOOLMAN – residensiele kunstenaar, by Die Blou Hond Teater Restaurant - word deur sommige mense onthou, as Neil Macdonald van “Sonkring,” of Andre Vorster van “Egoli.” Ander assosieer hom, met die helikopter-waaghals, in die program "Skattejag," of met die twee romantiese hoofrolle, wat hy in die Afrikaanse rolprente: "Die Prins van Pretoria" en "Inside Out" gespeel het.

Sy loopbaan het afgeskop (voor Egoli en Sonkring se dae) met die wen van `n landswye sang-en liedjieskryfkompetisie in 1989 - die televisieprogram "GRAFITTI" se "Ster 90" kompetisie. (Dit was die "Pop Idol`s," van daai tyd.) Daarna het verskeie T.V.-produksies gevolg, soos Die Sonkring, EGOLI, Wenners, Die Netwerk, Torings, Die Fourth Reich, Rhythm City, Binnelanders, High Rollers, Sterlopers ens... asook musikale verhoogproduksies, soos: Ester, Liefling en Ons Vir Jou.

Maar Die Blou Hond het Philip Moolman die besigste gehou (die afgelope 10 jaar) waar hy meeste van die vertonings self hanteer het, met afwisseling, deur ander top kunstenaars, soos Prime Circle, Chris Chameleon, Arno Carstens, Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, Koos Kombuis, Coenie de Villiers… en ongeveer 50 ander bekende plaaslike kunstenaars, wat oor 10 jaar geroteer het. 

Intussen skryf en toonset hy `n magdom Afrikaanse en Engelse liedjies, wat uiteindelik nou die lig gaan sien, met meer tyd op hande, sedert Die Blou Hond-perseel in Johannesburg verkoop is; en die die hele wenresep - saam met die "Hoofhond" en sy hele databasis, van duisende kliente ( "reune, tewe en werpsels") nou oorgeskuif het, na die spoggerige Casa Toscana - in Pretoria - waar Philip nou nie meer die volle restaurant eienaarskap en bestuur hoef te hanteer nie, maar suiwer op die kreatiewe kant van sake kan fokus.

Die hande-vat (of liewer "poot-vat") van die "Blou Bul" en die "Blou Hond" beloof om groot opskudding in Pretoria; asook in die Afrikaanse musiek-kultuur landswyd te veroorsaak, aangesien kunstenaars reg oor die land (asook die publiek) honger is vir venues wat die toets van die tyd kan deurstaan, soos die geliefde Blou Hond wat vir meer as `n dekade lank uit sy nate bars; tesame met die stylvolle Casa Toscana, wat (in eie reg) lank reeds sterk gevestig is. 

Ja-nee, die "hond" het `n bakgat nuwe "hok" gevind; en Pretoria is die PERFEKTE nuwe leplek. Vroeer: `n informele, loslit, residensiele huisteater-restaurant. Nou: die spoggerige "Herehuis-kennels," van Casa Toscana.

Die Blou Hond was nog nooit `n S.P.C.A. / pavement special / steekbaard, of straatbrak gewees nie; maar NOU het hy onteenseglik, `n volbloed Pretoria PEDIGREE HOND geword - met al die inspuitings, inentings, ontvlooiings, ontwurmings en splinternuwe “liksens-pampiere”; waar Philip Moolman (asook dosyne ander TOP Suid Afrikaanse kunstenaars) nou EERS `n "hond uit `n bos" gaan sing!